Afrikaanse Klub Australi Gholfdag
by Guest Author
Die Afrikaanse Klub gholfdag is vanjaar op 17 Oktober op die North Lakes baan noord van Brisbane gehou. Ons het besluit om die jaar n meer formele gholfdag te hou en die manne met die stokke is behoorlik getoets op die baan wat onder die top 100 gholfbane in Australi tel.
n Baie mooi groepie van 40 van ons het Saterdagoggend so 11:30 die baan aangevat. Met die nou skoonvelde, groot en vinnige setperke en nog groter sandkuile het North Lakes ons behoorlik getoets. Daar is baie gholfballe verloor en n paar gevleuelde woorde onderlangs gemompel, maar meer belangrik is daar baie nuwe vriendskappe gesmee. En soos altyd maak dit nie saak hoe groot die uitdaging was wat die baan aan ons gestel het nie elke speler onthou daardie een perfekte hou wat hom volgende keer weer sal terugbring baan toe.
Na die tyd het die spelers se vrouens, kinders en ander gaste by ons aangesluit vir die prysuitdeling en ook lekker saam gekuier. Ons wonderklike borge het gesorg dat elke speler met ietsie huis toe is en die gholfklub het vir ons n smaaklike ete voorgesit. Die eerste prys in ons vier-bal spankompetisie is gewen deur JJ Visagie, Andrew Moffatt, Arno Nel en Leon Fourie.
Na vanjaar se sukses hoop ons om die gholfdag n jaarlikse instelling te maak. Ons gaan hard werk om te kyk of ons volgende jaar so 80 spelers bymekaar kan kry.
Baie dankie aan Arno Nel (ondervoorsitter), Ben Prinsloo (voorsitter) en die borge wat so hard gewerk het om die dag n sukses te maak.
Vir inligting oor die Afrikaanse Klub, of om volgende jaar deel te wees van die gholfdag, kontak Ben Prinsloo (benprinsloo@dodo.com.au) or Arno Nel (arno.nel@bigpond.com) of stuur n boodskap op die webwerf http:www.afrikaans.org.au
Home